Nege skoolkore vier Taalmonument se 50ste op hoë noot.
Ná ’n paar jaar se stilte keer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se geliefde skoolkoorfees terug na Paarlberg. Op DONDERDAG, 2 OKTOBER 2025, gaan nege talentvolle kore van agt skole die Amfiteater laat weerklink met hul helder stemme…en dít bykans 50 jaar nadat die monument self op 10 Oktober 1975 in die einste teater met koormusiek ingewy is!
Vanjaar se fees beloof om glansryker te wees danksy die leiding van die veelbekroonde vermaakkunstenaar Whaden Johannes. Dié akteur, sanger en liedjieskrywer van Mamre het, ten spyte van ’n betreklik kort loopbaan, reeds bewys dat sy hartstog vir sang en toneel sy ware roeping is. Sedert sy deelname aan ATKV-Crescendo se mentorskapprogram in 2016 het hy naam gemaak as een van Suid-Afrika se opkomende sterre – geliefd vir sy musikale talent én sprankelende verhoogpersoonlikheid.
Die veeltalige koorfees bied aan skole ’n unieke geleentheid om in ’n nie-mededingende atmosfeer hul liefde vir musiek te deel, nuwe kontakte te bou en die vreugde van koorsang saam met hul families en belangstellendes te vier. Vanjaar neem Hoërskool Bellville, Hoërskool De Kuilen, Ebenezer Primêr, Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoër Meisieskool Paarl, Laerskool Mikro, Laerskool Paarl Gimnasium en Hoërskool Tygerberg deel.
Hekke open om 17:00 en die koorsang begin om 18:00. Spys- en drankstalletjies sowel as veilige parkeerplek is beskikbaar. Besoekers word aangeraai om warm klere saam te bring, maar geen vure, honde, eie kos of drank word toegelaat nie.
Toegang beloop slegs R120 per volwassene en R80 per leerder. Kaartjies is beskikbaar op quicket.co.za of by die hek. Vir meer inligting, besoek taalmuseum.co.za/wat-gebeur of kontak Stefanie Rasztabiga by kommunikasie@taalmuseum.co.za of 021 863 0543. Lees meer oor Whaden by crescendo.org.za/whaden-johannes.