Belangrike reëlings en inligting aan ouers en leerders
Die aangepaste eindeksamenrooster word hiermee beskikbaar gestel. ROOSTER
Neem asseblief deeglik kennis van die volgende belangrike reëlings:
LAASTE GEWONE SKOOLDAE
Graad 10 en 11
- Gewone skoolonderrig gaan voort tot en met Donderdag, 29 Oktober om 14:15, met enkele vakke wat vanaf Dinsdag praktiese eksamens gedurende die skooldag aflê.
- Vrydag, 30 Oktober is ’n blokdag vir alle graad 10- en 11-leerders; die Graad 11 Engels Huistaal-leerders haal vroegoggend hul skryfwerkvraestel van verlede kwartaal in en die Graad 10 IT-klas doen prakties.
- Die eindeksamen begin Maandag, 2 November.
Graad 8 en 9
- Gewone skoolonderrig gaan voort tot en met Vrydag, 6 November om 14:15.
- Die eindeksamen begin Maandag, 9 November.
Ons beklemtoon dat gewone skooldae steeds volwaardige onderrigdae is. Leerders moet tot op die laaste dag hul akademiese verpligtinge nakom.
EKSAMENSESSIES EN AANMELDTYE
Daar sal daagliks twee eksamensessies wees:
Oggendsessie
- Aanmeld by eksamenlokaal: 08:30
- Aanvang van eksamen: 09:00
Middagsessie
- Aanmeld by eksamenlokaal: 13:30
- Aanvang van eksamen: 14:00
Leerders moet 30 minute voor die aanvang van elke eksamensessie by hul eksamenlokale aanmeld. Hierdie tyd word gebruik vir administratiewe reëlings, die inneem van handboeke, die uitdeel van vraestelle, die nodige eksameninstruksies en 10 minute-leestyd.
Leerders sal die eksamenlokaal dadelik mag verlaat wanneer die voorgeskrewe tydsduur van hul betrokke vraestel verstreke is en nadat die toesighouer toestemming verleen het. Ouers en leerders moet daarop let dat die eindtye van vraestelle sal verskil na gelang van die voorgeskrewe tydsduur.
STUDIELOKALE EN LEERTYD BY DIE SKOOL
Ons besef dat leerders se eksamenroosters verskil, en dat sommige leerders vroeg by die skool aankom omdat hul ouers hulle nie later deur die dag kan aflaai nie. Leerders het ook soms wagtyd tussen 2 vraestelle of moet weens vervoerreëlings wag voor hulle huis toe kan vertrek.
Om hierdie rede sal daar vir elke graad daagliks vanaf 7:35 ’n studielokaal beskikbaar wees waar leerders gedurende die skooldag rustig kan werk en voorberei. Die studielokaal sal om 17:15 sluit.
Hierdie lokale kan gebruik word:
- Voor die aanvang van ’n eksamensessie.
- Tussen twee vraestelle op dieselfde dag.
- Ná afloop van ’n vraestel, indien leerders op vervoer wag.
- Wanneer leerders vroeg by die skool aankom of later moet vertrek.
Ons verwag dat leerders hierdie geleentheid verantwoordelik sal benut. Die studielokale is bedoel vir stil, doelgerigte akademiese werk en nie vir sosiale verkeer nie.
Leerders wat by die skool bly of vroeg aankom, moet by die lokale aanmeld en mag nie op die kampus ronddwaal of die skoolhekke verlaat nie. Sodra ’n leerder afgelaai word binne die hekke van ons skool, is hul ons verantwoordelikheid en daarom word niemand dan sonder toesig gelaat nie.
BYWONING EN AFWESIGHEDE
Die eindeksamen is ’n formele akademiese assessering en alle leerders moet hul vraestelle volgens die gepubliseerde rooster aflê.
- Leerders moet hul persoonlike eksamenrooster deeglik nagaan.
- Laatkommery moet ten alle koste vermy word.
- Indien ’n leerder weens siekte of ’n ernstige omstandigheid nie ’n vraestel kan aflê nie, moet die skool onmiddellik daarvan in kennis gestel word.
- Die nodige stawende dokumentasie – en in geval van siekte, ’n mediese sertifikaat – moet volgens die skool se assesseringsbeleid ingedien word. Stuur dit aan u kind se graadhoof en Studentesake by admin@janvanriebeeck.co.za.
- Geen leerder mag bloot besluit om ’n vraestel op ’n ander tyd af te lê nie.
Ouers word versoek om nie onnodige afsprake of ander aktiwiteite tydens geskeduleerde eksamens te reël nie.
EKSAMENREËLS EN BENODIGDHEDE
Leerders word daaraan herinner dat die skool se gewone gedragskode en eksamenreëls steeds geld.
Die volgende is veral belangrik:
- Leerders moet betyds en behoorlik voorbereid vir elke vraestel aanmeld.
- Die korrekte skooldrag moet gedra word.
- Elke leerder moet sy of haar eie skryfbehoeftes en toegelate toerusting saambring.
- Geen skryfbehoeftes mag tydens die eksamen tussen leerders uitgeruil word nie.
- Selfone, slimhorlosies en ander ongemagtigde elektroniese toestelle mag nie in die eksamenlokaal ingebring word nie.
- Leerders moet alle instruksies van toesighouers noukeurig nakom.
- Enige vorm van oneerlikheid sal in ’n ernstige lig beskou en volgens die toepaslike beleid hanteer word.
Ons doen ’n beroep op elke leerder om die eksamen met eerlikheid, integriteit en verantwoordelikheid af te lê.
VERVOER EN BEWEGING OP DIE SKOOLTERREIN
Ouers en leerders moet hul vervoerreëlings betyds rondom die eksamenrooster beplan.
Die skool se busdiens sal gedurende die eksamentyd aangepaste vervoerreëlings tref, gebaseer op leerders se onderskeie eksamenroosters. Die nodige reëlings en vertrektye sal deur die busdiens op die betrokke kommunikasiegroepe deurgegee word.
Leerders wat nie onmiddellik ná afloop van hul vraestelle huis toe kan vertrek nie, is welkom om die aangewese studielokale te benut.
SPORTREËLINGS VIR DIE RES VAN 2026
Ons bly verbind tot die gebalanseerde ontwikkeling van ons leerders. Hoewel akademiese voorbereiding gedurende die eksamentyd voorrang geniet, is gereelde fisieke aktiwiteit steeds belangrik.
26–30 Oktober: Normale sportprogram
Normale oefeninge en wedstryde gaan gedurende hierdie week vir alle sportkodes voort.
Leerders moet hul bestaande sportverpligtinge nakom en enige onsekerheid betyds met hul afrigters uitklaar.
2–23 November: Sport gedurende die eksamentyd
Gedurende die eksamen sal die sportprogram aangepas word om leerders voldoende geleentheid vir akademiese voorbereiding te bied. Geen formele oefeninge vind vir enige sportkode plaas nie.
Gimnasium en kondisionering
Die gimnasium sal gedurende die eksamenweke van 2–12 November, op Maandae tot Donderdae vanaf 12:00 tot 17:00, vir kondisionering beskikbaar wees.
Ons versoek dat elke sportleerder gedurende hierdie weke twee kondisioneringsessies per week voltooi. Dit is belangrik dat ons sportleerders hul fiksheid behou en goed voorberei bly vir die komende Somerfees.
Spesifieke spanoefeninge
Afrigters sal, waar nodig, direk met bepaalde groepe kommunikeer om spesifieke oefensessies te reël.
Hierdie oefeninge sal met inagneming van die eksamenrooster beplan word, sodat leerders voldoende voorbereiding vir die Somerfees kan doen sonder dat hul akademiese verpligtinge daaronder ly.
Ons moedig leerders aan om hul studietyd en fisieke aktiwiteit verstandig te balanseer.
Die sportdepartement sal op die sportgemeenskappe verdere kommunikasie oor die oefenskedule na afloop van die eksamen kommunikeer.
KOMMUNIKASIE EN BELANGRIKE KENNISGEWINGS
Ons versoek dat ouers en leerders gedurende die eksamentyd gereeld die skool se amptelike kommunikasiekanale raadpleeg. Enige noodsaaklike veranderinge of verdere logistieke reëlings sal betyds gekommunikeer word.
Indien daar enige eksamennavrae is, moet u eerstens u kind se graadhoof per e-pos kontak. U is altyd ook welkom om gedurende die skooldag dringende, onmiddellike sake of kennisgewings aan my te stuur by 083 320 6228 of skoolhoof@janvanriebeeck.co.za indien die graadhoofde weens toesig of om ander redes nie dadelik beskikbaar is nie. Skakel ook gerus die skool op ons landlyn.
Ons wens elke leerder sterkte toe met die voorbereiding en aflê van die eindeksamen.
Mag julle met selfvertroue die eksamenlokale binnestap, met eerlikheid jul beste lewer en met tevredenheid terugkyk op die moeite wat julle gedoen het.
Dankie aan ons ouers vir jul volgehoue ondersteuning en aan ons personeel vir die besondere toewyding waarmee hulle ons leerders deur hierdie belangrike tyd begelei.
Kom ons sluit ons eeufeesjaar met trots, verantwoordelikheid en akademiese uitnemendheid af.