Ons wil graag alle Graad 9-leerders en hul ouers herinner aan die Vakkeuse-inligtingsaand wat op Donderdag 20 Augustus 2026 om 18:00 in die skoolsaal plaasvind.

Die doel van die aand is om leerders en ouers van die nodige inligting te voorsien om ingeligte en verantwoordelike vakkeuses vir die VOO-fase te kan maak. Leerders en ouers sal onder andere meer hoor oor die oorgang van Graad 9 na Graad 10, die belangrikheid van toepaslike vakkeuses, asook die aard, inhoud en vereistes van die verskillende vakke wat vanaf Graad 10 aangebied word. Die skoolhoof, hoof van akademie, skoolsielkundige en verskeie vakhoofde en vakspesialiste sal gedurende die aand relevante inligting en leiding verskaf.

Alle Graad 9-leerders wat die vakkeuse-assessering voltooi het, sal voor die inligtingsaand hul individuele vakkeuseverslae ontvang. Hierdie verslae sal gedurende die komende week, voor Donderdag se inligtingsaand, per e-pos aan ouers gestuur word. Leerders en ouers word aangemoedig om die verslag vooraf saam deur te lees en enige aanbevelings of vrae wat daaruit voortspruit in gedagte te hou.

Dit is belangrik om daarop te let dat leerders nie tydens hierdie aand hul finale vakkeuses gaan maak nie. Die aand is uitsluitlik ’n inligtingsgeleentheid en bied aan leerders en ouers die geleentheid om meer oor die beskikbare vakke uit te vind en na die onderskeie vakspesialiste te luister. Dit is ook ’n waardevolle geleentheid om relevante vrae direk aan die onderskeie vakonderwysers te stel oor die inhoud, vereistes en verwagtinge van hul vakke voordat finale besluite geneem word. Verdere inligting oor die vakkeuseproses en die indiening van finale vakkeuses sal daarna gekommunikeer word.

Ons sien daarna uit om saam met ons Graad 9-leerders en hul ouers deur hierdie belangrike besluitnemingsproses te stap en hulle te ondersteun om weldeurdagte vakkeuses vir Graad 10 en die VOO-fase te maak.

0 Shares
X