Hoërskool Jan van Riebeeck bied op Dinsdag 19 Mei 2026 ‘n Loopbaanaand aan vir alle graad 9- en graad 11-leerders en hul ouers. Die bywoning van die aand is verpligtend en dit sal van 18:00 tot 20:00 by die skool plaasvind.
Ons nooi verskeie professionele persone van Kaapstad en omliggende areas uit om hul beroepe aan ons leerders en ouers bekend te stel. Elke aanbieder sal drie sessies van 20 minute elk aanbied gedurende die aand.
Daar sal dus drie sessies wees waartydens elke leerder die geleentheid sal hê om na ten minste drie verskillende sprekers te luister, elk oor hul spesifieke loopbaanrigting en professionele ervaring, met tyd vir vrae na elke sessie.
Waarom ook Graad 9-leerders?
Ons het besluit om die aand vanjaar ook vir Graad 9-leerders oop te stel, aangesien hulle later vanjaar belangrike vakkeuses moet maak. Hierdie blootstelling help leerders om meer ingeligte en realistiese keuses te maak, moontlike loopbane te verken of uit te sluit, en groter sekerheid en rigting te ontwikkel.
Waarom is dit belangrik vir Graad 11-leerders?
Vir graad 11-leerders is hierdie aand veral waardevol aangesien hulle besluite oor verdere studie en moontlike aansoeke na verskeie instansies moet neem. Dit bied ook ‘n geleentheid om moontlikhede vir werkskadu te verken en om betekenisvolle vrae oor beroepe te stel, wat kan help om keuses te bevestig of te heroorweeg.
Vanuit ‘n sielkundige perspektief is dit waardevol vir jong mense om eerstehandse ervarings te hoor oor hoe beroepspaaie ontwikkel. Dit help om realistiese verwagtinge te vorm, onsekerheid te verminder en meer doelgerigte besluite oor die toekoms te neem.
Meer praktiese inligting oor die verloop van die aand sal nader aan die tyd met ouers en leerders gedeel word.