UITTEKEN VAN LEERDERS BY ONTVANGS
Ons versoek vriendelik dat ouers/voogde betyds vir die graadhoof in kennis stel indien u kind om welke rede ookal vroeër die skool moet verlaat of ’n afspraak gedurende skoolure moet bywoon.
Hoewel dit glad nie die norm moet wees nie, besef ons daar is uitsonderings en krisisse.

’n E-pos moet ten minste 24 uur voor die tyd aan die graadhoof gestuur word.
Leerders moet dan ’n uittekenstrokie by hul graadhoof of me. Sterrenberg gaan afhaal en by elke klasonderwyser wie se periode gemis word, gaan uitteken om die nodige huiswerk en opdragte wat misgeloop word, te ontvang. Die graadhoof teken dan eers die uittekenstrokie af en u as ouer kan dan die uittekenboek by ontvangs (studentesake) teken.

Dit bemoeilik werklik sake indien ouers by die skool opdaag sonder dat ons behoorlik kennis geneem het. U kind moet ook weet wanneer hy/sy verskoon moet word, want geen leerder word oor die interkom uit klasse geroep nie – dit veroorsaak onnodige onderbrekings en steuring vir die res van die skool wat gefokus werk.

Ons vra by voorbaat begrip vir enige frustrasie wat dan veroorsaak word indien u haastig is en die adminproses nog nie afgehandel is nie – behoorlike reëlings vooraf sal geen onnodige oponthoud of frustrasie veroorsaak nie. Dankie vir u samewerking!

SKOOLDRAG TE ALLE TYE OP SKOOLKAMPUS GEDRA
Ons herinner ouers en leerders dat ons Jan van Riebeeckers te alle tye in volle skooldrag op die kampus moet wees tensy hul betrokke is by skoolaktiwiteite wat sportdrag of gemaklike drag toelaat.
Koshuisleerders mag op Woensdae in gemaklike drag hul ‘dorpdag’ geniet wanneer hul die skoolterrein verlaat.

Geen leerder mag dus bloot na skool in sivvies verklee, dan die kampus verlaat om persoonlike redes en dan later die middag so terugkeer kampus toe om te wag dat hul ouers hul oplaai nie.
Leerders wat nie by skoolaktiwiteite betrokke is nie, bly dus te alle tye in skooldrag en word so opgelaai.

SKOOLBAADJIES NETJIES
Ons vra asseblief dat u sal verseker dat u kind se skoolbaadjie te alle tye netjies en vars vertoon. Die knope moet aangewerk wees en die boonste knoop (of beide) van die skoolbaadjie moet te alle tye vasgemaak wees.
Slegs balkies wat deur die skool uitgereik is, mag op die baadjie gedra word. Geen provinsiale of ander prestasiebalkies wat nie skoolverwant is nie, mag op die baadjie gedra word nie.

Dit gebeur ook soms dat leerders ’n ouer broer of suster se baadjie of das erf, en dan kleure wat vroeër toegeken is, op die das of baadjie dra.
Dit is onverskoonbaar dat ’n leerder so ’n das of baadjie dra met erkenningbalkies wat hy/sy nie verdien het nie. Leerders wat hul skuldig maak aan hierdie disrespekvolle houding teenoor ons erkenningbeleid, sal beslis gestraf word.
Niemand leen ook baadjies by mekaar nie, asb. – veral nie ’n erebaadjie indien u kind nie daarvoor gekwalifiseer het nie. Geen leerder mag ook die matriekraad se leierskaphoede saam met hul skooldrag dra nie – dit is ’n voorreg slegs vir verkose leiers om hierdie hoede te dra.

Baie dankie vir almal se samewerking in hierdie verband!

0 Shares
X