Baie dankie aan al ons ouers en leerders wat die moeite gedoen het om die meningspeiling na afloop van vanjaar se graadkampe te voltooi. Die oorweldigend positiewe en opbouende terugvoer het die waarde van hierdie projek weereens bevestig.
Met die goedkeuring van die beheerliggaam is ons opgewonde om die graadkampe vir 2027 aan te kondig. Om deeglike beplanning moontlik te maak en kostes so goed as moontlik te bestuur, begin ons betalingsproses reeds vroeg vanjaar.
Die kampe sal, soos beplan, van Maandag 15 Maart tot Woensdag 17 Maart 2027 (2 dae en 2 nagte) plaasvind. Ons glo steeds vas in die waarde van buitemuurse leer, spanbou, persoonlike groei en die versterking van verhoudings tussen leerders, sowel as tussen leerders en personeel.
Vir 2027 is verskeie uitstekende kampeerterreine weer bespreek en deposito’s is reeds betaal om ons besprekings te bevestig. Terreine sluit onder andere in:
- Disakloof (Betty’sbaai)
- Mizpah (Grabouw)
- VCSV Kleinmond
- VCSV Bainskloof
- Karmel (Franschhoek)
Ons werk weer saam met Venture Forth International, ‘n ervare avontuuropleidingsmaatskappy met ‘n uitstekende veiligheidsrekord. Vanjaar se fasiliteerders het hulself bewys as professioneel, ervare en uitstekend opgelei. Verskeie skole maak reeds vir jare van hul dienste gebruik, en die terugvoer is deurgaans uiters positief. Ons sien daarna uit om hierdie waardevolle tradisie voort te sit en jaarliks daarop voort te bou.
Die kampfooi vir 2027 beloop R2 200 per leerder. Dit sluit in:
- Busvervoer
- Verblyf
- Ses etes
- Fasiliteerders
- Alle aktiwiteite
- Gebruik van die kampfasiliteite
Om die finansiële las te verlig, stel ons die volgende betaalplan via Karri voor:
- Augustus 2026: Deposito van R400
- September 2026 tot Januarie 2027: Vyf maandelikse paaiemente van R360 elk.
Ouers is uiteraard ook welkom om die volle bedrag voor die einde van 2026 te betaal indien hulle dit verkies. Nuwe Graad 8-leerders sal hul kampgeld as deel van die klere aankope vir 2027 betaal. Verdere kommunikasie hieroor sal aan die nuwe ouers gestuur word. Ons besef dat finansiële uitdagings soms kan voorkom en moedig ouers aan om vroegtydig met ons te kommunikeer indien ondersteuning of alternatiewe reëlings nodig sou wees.
Die graadinisiatiewe begin reeds in kwartaal 3. Ons nooi ouers uit om waar moontlik betrokke te raak en hierdie inisiatiewe te ondersteun. Verdere inligting oor elke graad se fondsinsamelingsprojekte sal vroeg in die derde kwartaal deur die graadhoofde gekommunikeer word.
Baie dankie vir u volgehoue ondersteuning en vertroue in ons skool. Ons sien daarna uit om in 2027 weer vir ons leerders ‘n veilige, betekenisvolle en onvergeetlike kamp-ervaring te bied.