Soos ons eeufeesjaar stadig tot ’n einde kom, wil ons dit afsluit op ’n manier wat ons skool se mense, musiek, herinneringe en trotse tradisies vier.
Ons nooi daarom graag elke Jan van Riebeecker om hierdie baie spesiale geleentheid saam met ons te beleef:
Woensdag, 21 Oktober 2026 
Kaapstad-stadsaal
19:00 – 22:00 
Merk asseblief nou reeds die datum in u dagboek!
Hierdie konsert gaan nie sommer net nog ’n skoolkonsert wees nie. Dit is ’n eeufeeskonsert – ’n viering van 100 jaar se stories, talente, vriendskappe, tradisies en mense wat oor ’n eeu heen deel van die Jan van Riebeeck-familie was.
Ons huidige leerders vorm die hart van hierdie besondere aand. Al ons leerders sal by dié konsert in ’n massa-item optree, en ons sien reeds uit daarna om hulle op die groot verhoog te sien. Ons skoolkoor, orkes en marimbagroep is reeds hard aan die oefen, en ’n besonderse alumnikoor word ook saamgestel. Die JvR-Tienertoneelproduksie sal ons aanbieding afrond.
En dan is daar nog ’n paar spesiale verrassings… ons is baie opgewonde om van ons bekende oud-Jan van Riebeeckers op die verhoog te verwelkom. Name en besonderhede sal mettertyd bekendgemaak word – maar ons belowe dat daar ’n paar oomblikke sal wees wat harte baie warm sal maak!
Die aand word op ’n gepaste wyse afgesluit wanneer ons skoolkoor en al ons leerders saam sing – ’n herinnering dat ons, ongeag die jaar waarin ons hier was, steeds deel is van dieselfde groter verhaal.
Praktiese reëlings: 
Omdat al ons leerders by die konsert betrokke is, sal ons direk ná skool as skool stadsaal toe stap en met ons logistieke oefening voortgaan en daarna saam met die leerders by die venue verversings geniet voordat die konsert begin.
Die gewone middag-roetebusse sal dus nie op hul normale tyd vertrek nie. Alle roetebusse sal eers ná afloop van die konsert vanaf die stadsaal vertrek.
Die konsert eindig om 22:00, waarna al ons leerders wat nie van busvervoer gebruik maak nie, by die stadsaal afgehaal kan word. Al ons ouers word egter spesiaal ook uitgenooi om hierdie konsert by te woon!
Daar sal ook veilige parkeerreëlings vir ouers en busse wees.
Ons sal gedurende die volgende kwartaal al die verdere logistieke besonderhede – insluitend vervoer, verversings, kaartjies/toegang en ander reëlings – met u kommunikeer.
Vir nou vra ons net een iets: OMKRING WOENSDAG, 21 OKTOBER IN U DAGBOEK!  
As ’n trotse Jan van Riebeecker-familielid, behoort hierdie ’n aand te wees wat geen leerder, ouer of oudleerder sal wil misloop nie. Ons vier nie net ’n honderd jaar nie –  ons vier die mense wat die afgelope honderd jaar die trotse naam Hoërskool Jan van Riebeeck gedra het, die leerders wat dit vandag dra, en die generasies wat dit môre sal dra…
Kom en wees dus deel van hierdie een-keer-in-’n-leeftyd-viering!
0 Shares
X