Neem asseblief kennis dat ons vanaf eerskomende Maandag, 16 Februarie, as ’n proeflopie vir ’n week die volgende aflaaireëling sal volg – in ’n poging om vroeëoggendfrustrasie vir ouers en personeel te probeer verminder!
Die gewone inganghek (langs die sekuriteitshuisie) sal toe wees en ons sal slegs ’n eenrigting-deurry prosedure volg: in by die verste hek in Hofmeyrstraat, vinnig stop en aflaai, deurry en dan uitry by die hek in Stephenstraat. Ons versoek vriendelik dat geen ouer links draai na die parkeerarea wanneer u die skoolgronde binnery nie – dit is slegs vir personeel.
Ons moedig u ook aan om eerder by die onderste hek in Kloofstraat vinnig te stop en u kind kan dan direk deur die skaakplein vinnig in die skoolgebou inbeweeg – dit bly steeds die vinnigste en maklikste opsie.
Let asseblief ook daarop dat die motorhek in Hofmeyrstraat stiptelik om 7:35 sluit.
Enige leerder wat laat is vir skool, moet voortaan by die onderste hek in Kloofstraat inkom en dadelik by Ontvangs aanmeld.
Hierdie reëling geld voorlopig slegs vir volgende week tot 20 Februarie – ek sal in volgende week se VrydagFlitse veranderinge of finale reëlings bekendmaak. Die reëling geld ook slegs vir vroegoggende voor skool.
Baie dankie vir u samewerking en geduld terwyl ons ’n goeie oplossing vir die verkeersfrustrasie soggens probeer vind.