Die tennis seisoen het amptelik begin, en die spelers is al aan die gang op die baan. Die res van kwartaal 3 is nou amptelik “DAAG KWARTAAL”. Alle spelers word uitgenooi, of jy nou reeds tennis speel of nie, om te begin uitdaag. As jy dink jy is die nuwe Novak Djokovic of Serena Williams (of dalk ‘n Nick Kyrgios), of as jy wil kom grootpraat met jou tennis vernuf, kom skryf gerus jou naam by mnr. Krüger se deur op. Almal word uitgenooi om te kom daag en jou naam offisieel op die tennis ranglys van die skool vir altyd vas te lê.
Tennisoefening vir die 3de span al die pad tot beginners is op Maandae en Woensdae middae vanaf 14:30 tot 16:00, en vir die 1ste en 2de spanne sal ons lekker vroeg op Dinsdae en Donderdae oggende vanaf 6:00 tot 7:30 oefen. Die wedstrydseisoen begin vroeg in kwartaal vier, en ons wil graag vyf spanne by die seuns en vyf spanne by die dogters hê, so almal sal die geleentheid kry om wedstryde te speel. Daar word ook groot toere beplan vir 2027 se 1ste en 2de spanne, so as jy graag die land wil verken in jou tennisskoene, daag mekaar uit om jou plek in die span te kry.
Volgende week die 3de en 4de September (Donderdag en Vrydag) neem ons aan Paarl Gimnasium se jaarlikse Marius Schoeman tennis 2’s deel. Hierdie is ‘n dubbels- en gemengde dubbelstoernooi, waar die wenners van die toernooi met R5000 kan wegstap!
Ons sê baie sterkte aan Johan Symington en Stella Lamprecht, John Gilmer en Klara Maree wat in die o.17-toernooi deelneem, asook Gustav van der Linde en Ané Swanepoel, Pierre van Niekerk en Anna Louw wat in die o.15-toernooi deelneem. Die toernooi begin ongeveer 14:00 by Paarl Gimnasium. Verdere inligting sal deurgegee word sodra ons die finale program ontvang.
Ter afsluiting wil ek weer enige iemand wat ‘n raket kan vashou, ‘n bal kan slaan en kan hardloop uitnooi om deel te vorm van ons tennisprogram hierdie seisoen, deur mekaar te kom uitdaag. As jy graag wil begin tennis speel, kom skryf gerus jou naam op by mnr. Krüger se klaskamer.
0 Shares
X