Die individuele praktiese eksamens vir VAKMUSIEK vind van 10 tot 15 Mei plaas. Elke leerder moet ‘n halfuur voor die aangewese tyd na die musiekblok kom om op te warm, en moet dan 5 minute voor die bestemde tyd voor die deur van die eksamenlokaal wag om geroep te word. KLASSE GAAN SOOS GEWOONLIK AAN; LEERDERS WAT MOET KOM SPEEL/SING, WORD ONTTREK UIT DIE KLASSE.
Maak asb. ‘n nota van u kind se eksamentyd. Indien ‘n leerder nié by die eksamen kan wees nie as gevolg van siekte, MOET ‘n DOKTERSERTIFIKAAT ingedien word, soos met enige geskrewe eksamen. Leerders moet sorg dat hulle hul eie instrumente, bladmusiek en toebehore by die eksamen het. Kitaarspelers kan van die skool se versterkers (“amps”) gebruik maak. Moedig asb. u kind aan om goed en gereeld te oefen in aanloop tot die eksamen sodat hy/sy goed voorbereid sal wees vir die eksamen. Laat hulle ook ‘n goeie ontbyt die oggend eet om die energievlakke op te bou.
Die vereistes vir die eksamen is soos volg:
- Grade 8 en 9: 2 stukke, bladlees op die instrument, en tegniese werk (toonlere, oefeninge, ‘n studie of tegniese stuk)
- Grade 10 en 11: 2 stukke, bladlees en tegniese werk (toonlere, oefeninge, ‘n studie of tegniese stuk), gehoortoetse (bladsang, ritme klap en drieklanke sing)
- Graad 12: Soos grade 10 en 11, maar met byvoeging van ‘n 3de stuk/studie.
Sterkte met die voorbereiding!